Emeishan-trappe

Die Emeishan-trappe is ’n groot basaltlawa-gebied in Suidwes-China, veral die provinsie Sichuan. Nes ander soortgelyke "trappe" van dié aard is Emeishan veelvuldige lae stollingsgesteente wat deur groot vulkaniese uitbarstings gevorm is.

Die uitbarstings wat die Emeishan-trappe gevorm het, het sowat 260 miljoen jaar gelede begin. Wat volume aanbetref, word die trappe verdwerg deur die enorme Siberiese Trappe, wat nie lank daarna nie, sowat 251 miljoen jaar gelede, gevorm is. Tog was die Emeishan-uitbarstings groot genoeg om ’n ernstige, wêreldwye uitwerking op die omgewing te hê. Dit word verbind met die sogenaamde einde-Guadalupium- of einde-Capitanium-uitwissing, toe baie plante en diere uitgesterf het tydens die Perm-periode.

Die Emeishan-trappe maak dus deel uit van ’n groter wetenskaplike debat oor die oorsake van massauitwissings.[1] Die tydsooreenkoms tussen die vorming van die Emeishan-trappe en die einde-Guadalupium-uitwissing word deur baie aanvaar as ’n bewys dat vulkaanuitbarstings die hoofrede vir uitwissings is. Die teenstellende standpunt is dat uitwissings veroorsaak word deur die impak van groot asteroïdes en komete. Daarvolgens is die Emeishan- en soortgelyke trappe self die gevolg van sulke impakvoorvalle.[2]

  1. Yukio Isozaki, "Plume Winter Scenario for Biosphere Catastrophe: The Permo-Trassic Boundary Case," in: Yuen et al., pp. 409-440.
  2. Adrian P. Jones, David G. Price, Paul S. DeCarli, and Richard Clegg, "Impact Decompression Melting: A Possible Trigger for Impact Induced Volcanism and Mantle Hotspots?", in: Koeberl and Martinez-Ruiz, pp. 91-120; esp. pp. 110-11.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy